top of page

Hoe help ek vriende met kinderverlies?

Mense vra vir my as troosspesialis: Hoe help ek my vriende wat nou in hierdie verskriklike rou gedompel is omdat hulle dogtertjie dood is? Ek wens ek het 'n wonderlike antwoord gehad wat universieel is en wat op almal wat 'n kind verloor het van toepassing is. Daar is ongelukkig nie so 'n antwoord, of raad nie. Die heel beste raad wat ek het is:

- Laat hulle toe om hartseer te wees. Sonder mooi woordjies en geykte uitdrukkings soos "Sy is nou op 'n beter plek." Laat hulle hartseer wees. Net dit.

- Daar is nie 'n "ten minste" wanneer 'n kind dood is nie. Daar is net doodeenvoudig nie.

- Daar is GEEN advies wat enige iemand hierdie ouers kan gee wat wonderbaarlik gaan maak dat hulle seer verdwyn nie. Dit bestaan nie. So moenie eers probeer nie.

- As jy bang is jy gaan ongemaklik voel het ek vir jou slegte nuus: Jy gaan beslis een of ander tyd ongemak ervaar. Maar as jy werklik daar wil wees vir hulle is dit jou 'werk' om ongemaklik te voel terwyl jy hulle ondersteun.

- Jy is nie God nie en dus kan jy ook nie namens Hom praat nie. Moet asseblief NOOIT vir ouers vertel "Dit was God se wil" of "God het 'n plan met jou kind se dood" of "God pluk sy mooiste blommetjies" nie. God het nie blomme nodig nie, Hy maak sy eie. En wat God se 'plan' of 'wil' vir jou vriende se lewe is, is jou beslis nie beskore nie. En al is jy 'n profeet en voel God self het vir jou bonatuurlike insig in hulle situasie gegee is dit NIE die tyd of die plek terwyl hulle rou, om dit vir hulle te sê nie! Ek het nie genoeg woorde om hierdie punt te beklemtoon nie: Moenie namens God praat nie!

- Die woord 'bystaan' is 'n werkwoord wanneer dit by die dood van 'n kind kom. Wees daar waar die tekkie die teer tref. Koordineer etes, doen inkopies, sorg dat hulle asblik uitgesit word, was skottelgoed of wasgoed, sorg dat ander kinders versorg is, of antwoord boodskappe van simpatie namens ouers (met hulle toestemming natuurlik). Maar doen net IETS. Dis so maklik om te sê "Laat weet as julle iets nodig het." Dis nie wat mens sê nie. Jy DOEN.

Laastens is die heel beste raad ek het, om net daar te wees. In hulle pyn, in hulle hartseer, in hulle kwaad, in hulle vrae. Soos die Engelse sê "Just be."



4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page